Isak

'n Engel weerhou Abraham daarvan om sy seun Isak te offer; skildery van Rembrandt (1635)

Isak, ook gespel as Izaäk, Izak of Jitschak (Hebreeus: יִצְחָק of יִשְׂחָק, Jitschak), was volgens tradisie in die Hebreeuse Bybel die tweede aartsvader en die enigste seun van Abraham by sy vrou Sara. Isak was die vader van Jakob en Esau.[1] Hy sou op die berg Moria (Tempelberg) deur sy vader geoffer word in opdrag van God, maar word deur die tussenkoms van 'n engel gered. Hy word in Genesis as 'n nomadiese vors voorgestel. Hy kom ook verskillende kere in die Koran voor as Ishaq (Arabies: اسحاق, ʾIsḥāq).

Van al die aartsvaders het Isak die oudste geword en hy was ook die enigste een wie se naam nie mettertyd verander is nie. Daarbenewens was hy die enigste aartsvader wat Kanaän nooit verlaat het nie, hoewel hy dit eenmaal probeer doen het, maar deur God teruggeroep is. In vergelyking met die ander aartsvaders is Isak se lewensloop minder kleurryk – daar word weinig fynere besonderhede oor sy lewe vermeld. In alle verhale waarin hy 'n rol speel, staan hy nie net in sy pa en seuns se skadu nie, maar ook in dié van sy vrou Rebekka wat sterk uitgebeeld word. Hy leef met Rebekka, anders as die ander aardsvaders en hul vroue, in 'n monogame huwelik.

  1. Genesis 21:26

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search